'n Briefie aan Anna op haar 70e
Dis altyd goed om met mekaar te praat, maar soms is dit beter om vir mekaar te skryf. Skryf verg meer dink, meer konsentrasie om te kommunikeer- pad van die brein na die papier is veel langer as die van die brein na die tong.
So 'n 70-jaar wordery lyk vir my na die ideale geleentheid om vir jou te skrywe. Niks opwindend of skandalig of geskik vir publikasie in die Huisgenoot nie, sommer net stuff wat in my kop opdryf boontoe. Hopelik nie als opdrifsels nie…….
Sewentig, sou mens so 'n paar jaar gelede gesê het, is darem fokken oud. Jy is dan verseker 'n tannie. Of 'n oom. Een ding weet ek virseker- nie een van ons wil of sal ooit 'n oom of nie tannie wees nie. Oomgeid en Tanniegeid het te make met hoe jy oor die lewe voel. As jy reken jy't klaar als gedoen en hang maar net rond soos 'n laat vy:- Bam! Jys 'n tannie. Of 'n oom. Ek weet dis soms moeilik om aktief te wees as mens se parte begin oppak, maar dis eers as jou brein die gees gee wat mens geregtig is op tannie-wees. Vir jou en my, tot dan is ons Anna en Gerhard. En wee iemand bo skoolouderdom wat vir ons tannie en oom sê!
In alle geval, vandag join jy my op die pedestaal van 70. Want 'n pedestaal is dit; 'n platform vanwaar mens met 'n bietjie meewarigheid die doen en late van die mensdom kan gadeslaan. Nie dat mens meerderwarig of besonders wys is nie. Oor die jare het mens net 'n skeut realiteit gekry. Die stuff wat mense vandag opgewonde maak haal oor 'n paar jaar nie meer die hoofopskrifte nie. Tyd marsjeer aan. En dit vat heelwat om ons opgewonde te maak oor iets. Dit beteken nie dat ons passieloos is nie. Ons kies net ons passies met meer sorg. So spaar mens energie- 'n vermorste passie is 'n lelike ding. Die paar weke wat ek reeds hier hurk, was nou nie juis anders as die voorgaande jare nie. Ek wens net mense wil ophou vra "Nou hoe voel dit om 70 te wees?". So asof daar iets spesiaals of spesiaal terrible moet wees wat mens voel as jy 70 is. En daar is nie.
Mens hou nie op droom oor die toekoms bloot omdat jy 70 is nie. As mens baie, baie gelukkig is, het jou mees belangrike drome op hierdie ouderdom reeds waar geword. Daar is nie baie mense wat rus het omdat die groot stuff gesort is nie. Ek is een van die gelukkiges. Daar is 'n moerse klomp drome wat ek nog koester- drome wat, so hoop ek, nog in die lewende jare waar gaan word. Maar die groot goed? Nee wat – als het realiteit geword - meer as wat ek gedroom het.
Ek wou graag redelik finansieel gesort wees – check!
Ek wou graag by die see bly – check!
Ek wou graag great verhouding met my kinders hê – check!
Ek wou graag kleinkinders hê – check!
En bo alles, wou ek graag weer iemand hê wat my maat, my sielsgenoot en my liefde kan wees – moerse groot check!
So, wat bly dan oor as die groot goed daar is? Baie kleiner drome, maar nogtans drome. Baie waarvan draai rondom menswees, of liewer beter mens wees. Beter wees as 'n man en 'n maat vir jou. Meer nadenkend optree en minder impulsief wees. Sulke soort van stuff. Niks wat my sielsongelukkig maak omdat dit nog ongedaan is nie.
En wat natuurlik ook oorbly is my wense vir jou. Dat al jou drome wat nognie waar is nie, waar word. Sommer gou. En dat jy ook nie sal ophou droom nie, al is dit dan net kleinere drome. Dat jy altyd sal bly wie en wat jy is en in jouself sal bly glo. Ek is vrek baie lief vir jou – was dit nog altyd gewees, sal dit altyd wees. Net so verlief as wat ek was in die begin, so verlief is ek nog vandag. Al is jy fokken 70 jaar oud….