
Kristi word 22
Mens se eerste instink as jy iets vir jou kleindogter wil skryf vir haar 22e verjaarsdag, is om lewenslessies neer te pen. Al daai goete wat ek en haar Ouma oor die jare geleer het en wat ons weet sy sal in ‘n boekie met haar ronddra vir die res van haar lewe. Hah!
Weer gedink. ‘n Glas rooi wyn later, besef ek dat dit ‘n swak idee is. Ek meen, dis ‘n feit dat ek en Ouma propvol leerbare stuff is, gevul met waardevolle resepte vir die lewe, maar hoe gaan dit vir Kristi help om ou stuff relevant vir haar te maak? Soos om haar te vertel wat gebeur het toe ek Helena Knoetze se vlegsel in die inkpot gedoop het. As sy in any event nie eers weet wat ‘n inkpot is nie. So nee wat. Lewenslesse is uit. Nou wat dan? Ek het die antwoord gekry toe ek deur ons fotos geblaai het. En daars ‘n hele spul van hulle. Mooi kronologies gerangskik deur liefste ouma. Daar’s fotos en fotos en dan is daar nog fotos. Mens kan maklik verlore raak in die verlede:
“My donder, kyk hoe jonk lyk ek daar…”
“Kan jy dit nog onthou…”
En so, geleidelik soos ‘n goeie rooi wyn, besef ons dat die ervarings van gister twee kante toe sny- dit is deel van jou kleinkinders se grootword en dit dra by tot wie hulle vandag is. Maar dit is ook deel van jou eie oudword en dit dra by tot wie jy vandag is.
Dus, liefste Kristi, is hierdie ‘n dankie op jou verjaarsdag vir die deel van ek en jou ouma wat jy ons gegee het. Liefde, geluk, voorspoed en ons beste wense. Ons is lief vir jou. Hier is 'n paar fotos net vir jou. Vir vandag.